13 – 15 September 2013 – Evangelisasie naweek in Nkondedzi

13 – 15 September 2013

Evangelisasie naweek in Nkondedzi (20 km van Chandame af)

Die lede van die Chandame gemeente en die jeugkoor het Vrydagmiddag vertrek met die vragmotor  na Nkondedzi. Hulle het die middag afgeskop met die wys van DVDs en videos onder andere die Jesus film.

Hulle het gesing, gedans en die Here geloof dwarsdeur die nag. Daar was aanmekaar ‘n toeloop van mense. Vrydagaand het 20 mense hul hart vir
die Here gegee.

Sondag het hulle afgesluit met ‘n paar mense wat beurte kry om te preek. Almal se boodskap het gegaan oor dis jou keuse of jy aan God gaan glo en dat ons nou beweeg in die laaste dae en daar nie meer tyd is om ander paaie te stap nie.

Aan die einde van die naweek het hulle 52 lede by gekry by hul gemeente.Die Sinode dink daaraan om ‘n Evangelis aan te stel vir 3 jaar by Nkondedzi en dan daarna ‘n voltydse predikant. Ons is baie opgewonde oor die groei in daardie area!

Die kliniek op Chandame is al binne en buite klaar gepleister en die deure en vensters afgerond. Vasco en sy twee helpers vorder goed en hul werk baie netjies.

Jannie het een nag ‘n boodskap gekry om die boek Hagai  te lees. Hy het die volgende oggend gesê ons moet begin om ons kerk op Chandame op te knap en netjies te maak. Ons het nou daarmee begin en die kerk gaan nou opgeknap word!

Ons was vir 9 dae in Zimbabwe. Ons het gegaan om die enjin blok te laat herstel en ook parte te kry vir die boormasjien.

Jannie help vir Ben Bekker in Tete om water te boor so ons kry so ook ‘n ekstra inkomste vir die werk sodat ons die Koninkryk van God kan uitbrei.

Ons gaan daagliks aan met die kliniek wat ons hier by ons woonplek hou totdat die groot kliniek voltooi is. Onlangs het ons weer 2 kinders gekry met
brandwonde. Hulle is met kookwater verbrand. Die een se handjie en die ander dogtertjie se hele voorarm en hand.

Ons kry nogal baie brandwonde, want hul maak op die grond vuur om kos the kook. Hulle eet ook romdom die vuur so daar is altyd ‘n pot water wat kook en altyd ‘n vuur wat brand. Ons het ook ‘n seuntjie gekry wat so half in vuur gaan sit het. Hy was baie braaf en het niks gehuil toe ons hom gedokter het nie. Ons het baie voorbidding nodig vir die kinders van Mosambiek!
Elke oggend tussen 8 en 9 uur het Susan voorskoolse kinders vir visie-terapie en hand- oog koordinasie oefeninge. Die kinders geniet dit baie en kry die nodige stimulasie wat hul nooit kry voor hul skool toe gaan nie.

Aida ,Pastor Isaias se vrou het elke oggend en elke middag nasorg. Sy help die groter kinders met hul skoolwerk. Dis baie nodig want die
onderwys in Mosambiek en veral hier op Chandame is nie in ‘n goeie toestand nie. Sy doen twee skofte want daar is twee skofte by die skool.

Party kinders gaan in die oggend skool toe en ander weer in die middag. Daar is nie plek vir almal om gelyk skool toe te gaan nie.

Ons eerste somerreen het geval. Dit het vir 2 dae aanmekaar gereen. Dit is baie goed vir die inwoners se landerye. Hulle is baie afhanklik van die reen vir die groei van hul produkte. Hoe beter die reenval hoe beter die oeste!

Ons is postief oor ons werk hier op Chandame. Ons werk ook wyer en Jannie gee hulp en bystand vir ander sendelinge. Jannie help ook inwoners met die vervoer van hulle produkte na die mark!

Ons weet ons dien ‘n God wat Leef!!!!!

JANNIE & SUSAN